Welkom by my blog maar moenie hier begin nie begin aan die begin en toer saam my. Dalk help my journey jou, dalk is daar vir jou n antwoord op n vraag wat jy dalk het. Dalk lees jy n inskrywing raak wat iemand na aan jou dalk nodig het om te hoor, deel dit gerus. “God work in mysterious ways”
Die Krag van Jou Woorde
Gesprekke deesdae begin alewig met: “Ek het hierdie quote raakgelees” of “Ek het daardie video gesien.”
Hierdie stuk wat ek vandag skryf, gaan juis oor ‘n video wat ek gesien het—iets wat my diep getref het. Ek het gedink ek deel dit met jou.
As alles wat jy sê waar sou word, sou jy verander hoe jy praat?
Vat ‘n minuut en dink oor daardie een.
GENESIS 1:26
Toe het God gesê: “Kom Ons maak die mens as Ons verteenwoordiger, na Ons beeld.”
My vriend, God het gespreek—Hy het die woord gepraat in die begin, en dit het gebeur. Ons is gemaak in Sy beeld, so ons kan ook skep. (Moenie nou die hoender ruk nie, ek sê nie ons is God nie, maar ons is geskape in Sy beeld.)
SPREUKE 18:21
“Die tong het mag oor dood en lewe; dié wat lief is om te praat, sal die gevolg dra.”
Die wêreld leer ons om te praat oor wat ons sien, maar die Bybel leer ons om te praat oor wat ons wil sien. Dít is hoe geloof werk.
- Spreek lewe oor jou gesondheid.
- Spreek lewe oor jou huwelik en jou kinders.
- Spreek lewe oor jou finansies, ons land—oor alles.
As jy nie van ‘n situasie hou nie, spreek lewe daaroor. Jy is gemaak in die beeld van God, en jy skep met elke woord wat by jou mond uitkom.
Verander net dit wat jy sê.
Ek hoor jou: “Regtig, Riëtte? ‘n Paar woorde gaan nie my situasie of lewe verander nie. Ek praat net oor wat ek beleef en wat ek sien.”
Maar, my vriend, dít is juis waar die probleem lê! Die Bybel leer ons dat geloof die realiteit is van waarin ons hoop—die bewys van dinge wat ons nog nie kan sien nie, totdat ons dit wel kan sien.
Bid hardop.
Ek het al gehoor: “Nee, Riëtte, moenie hardop bid nie. Die vyand gaan jou hoor en weet presies waar om jou aan te val.”
My liewe vriend, hy het geen mag oor my nie! Hoe kan ‘n ding mag hê wat reeds deur my Vader verslaan is? Die enigste manier waarop hy jou kan aanval, is as jy hom mag gee. My God is groter as die vyand, en dis al wat sy geskryf het!
As jy jou gebed nóg kragtiger wil maak, bid met die Woord en bid in dankbaarheid. Daar is ‘n verskil tussen ‘n gebed van dankbaarheid en een van twyfel.
Byvoorbeeld:
“Vader, ek lees in 2 Konings van die vrou wat net ‘n bietjie olie gehad het, en U het dit vermenigvuldig sodat sy meer as genoeg gehad het—selfs om ander te seën. Dankie dat U steeds dieselfde is, vandag, môre en vir altyd. Dankie dat U ook vir my sal voorsien soos U vir haar voorsien het. Dankie dat U my Voorsiener is, en daarom sal ek nie begeer nie.”
Onthou die krag van jou woorde.
En bid hardop as jy wil—Hy wil met jou praat en ‘n verhouding met jou hê. God het klaar gewen, die vyand het geen mag nie.
So, my vriend—
As alles wat jy sê waar sou word, sou jy verander hoe jy praat?
Wie is ek nou?

Ek het altyd my waarde geheg aan wie ek was deur wat ek gedoen het.
Ek was op skool ’n atleet, ’n gedugte netbal- en korfbalspeler, mal oor sport—ek het alles gedoen wat aangebied was.
Toe word ek ’n brandweervrou. Ek was ongelooflik trots daarop. Dit was my droomwerk—belangrik en betekenisvol.
Toe trou ek. Ek het Werner se vrou geword, iemand wat na haar man omsien, ’n tuiste skep. Dit is steeds een van my beste besluite ooit.
Toe word ek ’n mamma. Ek het nooit gedink ek sou verstaan hoe dit voel as jou hart buite jou liggaam rondloop nie. Wat ’n belangrike, wonderlike, en vervullende werk was (en is) dit nie! Om my kinders groot te maak en te leer, was ’n ongelooflike voorreg.
En toe… kom die een operasie na die ander. Stelselmatig is ek weggeneem van wie ek was. Een oomblik lyk dit of die son weer gaan skyn, dan dompel die pyn my weer in die duisternis—alleen in my eensame gat.
Wie is ek nou? Is ek net pyn, elende, depressie? Ek kan nie meer werk nie, ek is nie meer ’n “contributing member of society” nie. My kinders het my nie meer so nodig soos toe hulle kleiner was nie.
Wat bly oor?
Ek weier om net pyn te wees. Ek weier om net “die vrou met die morfienpomp” te wees. Ek is nie net die vrou wat soms met ’n kruk loop en skaam kry vir die ding nie, wat mense se oë voel brand, wat eerder twee rye verder parkeer met haar geldige parkeerplakker, net om nie te veel aandag te trek nie. Maar dan sit ek later in die kar en huil, want ek het te vêr geloop sonder my kruk—te trots om dit te gebruik—en nou is ek te seer om te ry.
Ek is moeg. Moeg vir die opinies van mense wat my nie ken nie. Moeg vir aannames. Moeg vir myself. Ek is uitputtend.
Wie is ek nou eintlik?
God sê ek is wonderlik. My Vader sê ek is waardig. My Vader sê ek is geliefd en verdien om liefgehê te word.
As Hý dit sê, wie is ek om anders te sê?
Ek is Riëtte. ’n Entrepreneur wat ’n besigheid van nuuts af gebou het en elke produk self maak.
My Vader het vir my ’n kreatiewe gawe gegee.
My Vader het my gemaak ’n mammaa—’n mamma wat versot is op haar kinders en elke oomblik saam met hulle geniet.
Ek is ’n vrou van ’n ongelooflike man, wat instaan waar ek kortkom en andersom. Ons het ’n wonderlike verhouding.
Maar die belangrikste van alles—ek is ’n kind van God.
Ek is royalty.
My Pa is die Koning van die heelal.
Soms moet ek net ’n oomblik stilstaan en onthou waar ek vandaan kom en wie ek regtig is.
So my liewe vriend… wie is jy?
He with little Faith
Jesus loop op die water. Petrus sien Hom en sê: “Jesus, beveel my om na U toe te kom, en ek sal.” Jesus sê vir hom: “Kom na My toe.” Petrus klim uit die boot en loop op die water! … Wow, ‘n gewone Piet, ‘n doodgewone mens loop op die water (mind blown). Petrus kyk vir ‘n oomblik weg, sien die golwe en wind, en paniek slaan toe. Hy begin sink. Jesus steek Sy hand uit en sê: “Kleingelowige, waarom het jy getwyfel?”

Kleingeloof… Klein geloof, genade, ek weet nie so mooi nie. Die man het sonder om twee keer te dink uit die boot geklim. Hy het genoeg geloof gehad dat hy nie eers sy skoene uitgetrek het nie. Ek sou sê dit het nogal baie geloof gevat om daardie tree te vat.
Wat beteken dit dan om kleingelowig te wees? “Little faith” of “kleingeloof” – Wat sal dit beteken? “Little” beteken klein, kort, of dit kan ook beteken van korte duur… Eureka!
Petrus se geloof was van korte duur; sy geloof het nie gehou nie, hy het kortgekom en opgegee.
Dit laat my dink aan hoeveel keer ek al iets met soveel geloof aangepak het, en as dit nie dadelik werk nie, of ek word nie gesond nie, of ‘n operasie kry komplikasies en ek bid vir ‘n deurbraak, ‘n oplossing, genesing, enige iets—dat Hy net moet ingryp. Maar as dit nie uitwerk soos ek dit wil hê nie, wankel my geloof so bietjie.
Die Bybel sê jy moet geloof hê soos ‘n mosterdsaadjie. Ek het nou al gewonder oor daardie een… ‘n Mosterdsaadjie… Regtig? So min, so klein, en dan sal jou geloof berge verskuif? Maar nou, my liewe vriend, nou vra ek jou met trane in my oë, want ek is so skuldig hieraan. Het jy die geloof om geduldig te wag wanneer Hy dalk die berge verskuif, klippie vir klippie, en nie die hele berg in een slag nie?
Ek raak so “consumed” in my pyn, my probleme en bekommernisse oor môre, dat my geloof dalk wankel as dit nie op my tyd gebeur nie. Dan voel ek vergete en ongehoord. Maar dalk kom die genesing in die wag. Dalk kom die oplossing op ‘n onverwagte tyd, Sy tyd.
Nou die uitdaging: om my geloof so te versterk en te bou dat dit van lange duur sal wees. Al kom genesing nie vir my nie, al voel dit of alles verkeerd gaan, ek sal geloof hê in my Vader. Hy weet wat Hy doen, en ek vertrou Hom met alles in my.
Vader, ek bid dat U my sal help om my geloof te versterk, dat dit van lange duur sal wees, ‘n geloof wat sal hou tot in die lengte van dae. U is so goed vir my, U het my so lief. U het my hier geplant vir ‘n tyd soos hierdie. Hou my vas vir die dae wat ek swak is. Dankie dat ek altyd kan weet dat U my nooit sal los nie, al is ek partydae soos Petrus en wankel. Ek weet dat U my altyd sal agternasit en nie toelaat dat ek te ver afdwaal nie.
Ek is so lief vir U, Vader. Dankie vir ons verhouding, dat ek die vrymoedigheid het om met U te kan praat oor enige iets en U te kan vertrou met alles.
Love You forever and a day. Amen.
Psalms 23

PSALMS 23:1-2 NLV[1] ’n Dawidspsalm. Die Here is my herder; daar is niks wat my ontbreek nie. [2] Hy laat my lê in groen weivelde; na water waar rus is, lei Hy my. https://bible.com/bible/117/psa.23.1-2.NLV
Ek het lank laas geskryf, ek weet. So baie mense vra my gereeld : “Het jy iets geplaas wat ek dalk gemis het ?” Wel…
Ek is nie op ‘n goeie plek nie, en ek dink nie dis iets wat julle wil lees nie. Dit gaan nie goed met my nie. My morfienpomp werk nie. Ek dink nie hy het al ooit reg gewerk nie. Drs vermoed daar is ‘n blokkasie somewhere as gevolg van scar tissue.
My hart voel biedjie swaar. Een goeie ding – na ‘n jaar van baklei met die hospitaal en medies oor ‘n baie groooooot rekening (medies het net die helfde van my pomp betaal. Beide kante se skuld… lang storie) het ons die medies so ver gekry om die rekening te betaal. Na baie trane en gebede het ons liewe Vader deurgekom vir ons.
”n Klomp boewe het een winderige koue aand in ons erf gekom en al ons solar panels van die dak af gesteel. Ek weet dis net goed; dit kon erger gewees het. Hulle kon in die huis gekom het en ons seer gemaak het, maar die Vader het ons beskerm. Maar dit voel nie lekker om te weet daar was mense so naby aan ons wat ons lewens in gevaar kon stel nie.
Ek is moeg. Slaap maar min met my pyn. Ek is weer geboek vir ‘n operasie om te kyk waar die blokasie is en hopelik werk die masjien en ek is ‘n ander mens.
Ek is baie angstig vir die operasie. Ek weet, ek weet. Ek was al vir baie en ek meen baie operasies, maar dit maak dit nie makliker nie. Ek het al ‘n fobie vir teaters.
Koue grys vertrek met groen pakkies orals wat opgestapel is. Masjiene wat geluide maak. Ligte wat skerp in die oë skyn. Nou bedjie waarop jy onveilig voel en die reuk van die masker. O daardie reuk en gevoel wanneer jy wegsluimer in jou narkose en nie weet of jy weer daar gaan wakker word nie.
Maar, ek moet myself rustig kry soos hierdie beautiful lied wat ek aanheg sê : “Anxiety does not like Psalm 23.”
Ek moet net rus in Hom en vertrou op Hom.
Bid vir my; hou my in julle gebede. Mens sal dink ek is al pro met die operasies saam, dat ek nie meer bang en angstig raak nie. Maar ek doen. Is maar net mens.
Ek’s iemand wat haar Dad se hand wil vashou in moeilike tye, teen Sy bors vasgedruk wil word. Gelei wil word na sy groen weivelde en net vrede en rus vind.
Ek sukkel ook soms. Gelukkig het ek ‘n gelowige man wat my staande – en op my knieë hou. Gelukkig het ek vir julle wat vir my kan instaan met gebed en gelukkig het julle my wat dieselfde vir julle sal doen. Luister gerus na hierdie pragtige lied; op die oomblik my gunsteling.
Te Midde van

Het jy al gewonder. gewonder soos ek, hoekom voel dit of dit net goed gaan met ander? Net ander se gebede word verhoor. Almal kry hulle wonderwerke. Maar ek… Nie.. ek word oorgeslaan ek is vergete. Dad hoor nie my smeek gebede nie!
Het jy al daadie diep bid gebid? Daardie tipe bid, waar jy jou asem uit huil op die vloer, die tipe bid wat jou so lam het dat jy nie kan beweeg nie jy snik soos ‘n kind. Trane loop vrylik oor jou wange jy so moeg gehuil is, so moeg gepleit is dat jou longe brand asof jy ‘n maraton gehardloop het.
Om weer na daardie episode op te staan onveranderd, steeds in pyn. Geen oplossings nog steeds dieselfde probleme.
Ongehoor moet jy maar aan beweeg, jy moet aangaan. Jou besighede moet aangaan, kinders moet versorg word, huishouding moet na gekyk word. Onbewus waar jy ‘n paar uur terug jouself so verloor het in gebed totaal al en al weerloos was voor Dad, en onbevreedig ongehoor moes opstaan, jou eie trane afvee en aangaan met jou dag.
Ek het weer ‘n insetsel van The Chosen gekyk ‘n insetsel wat ek maklik al 4 keer gesien het maar nooit gehoor het wat gesê is nie. (Sal dit aanheg hieronder)
Dit het my so diep getref waar Jesus vir Little John sê al mense wat wonderwerke ontvang is mense wat hulle pad na Jesus moet kry, is mense wie se harte so stukkend is dat dit al manier is hoe hulle by hom gaan uitkom. Dan dink ek-ek weet ek mag nie ek weet dis verkeerd maar ek wil nie meer ‘n voorbeeld wees nie, ek wil nie meer ‘n inspirasie wees nie ek wil net flippen lewe is dit regtig so baie gevra? Ek wil ook meer wees as net pyn, morfien, operasies en trane.
Dan besef met eens ek, ek is eintlik okay. My hart behoort aan Hom te midde van my leiding te midde van my pyn te midde van my opstand sal ek Hom loof, prys en eer. Aan Hom sal ek lof besing en eer bring.
Ek sal hoop hê tot in ewigheid ek weet Hy sal my genees vandag, môre of eers in die ewige lewe. Maar ek weet dat ek weet dat Hy my te lief het dat ek so hoef swaar te kry.
Hou vas daaraan, ons sal verligting kry wanneer Hy reg is. Hy is goed en ek wag op Hom Hy het my lief soos niemand my ooit kan lief hê nie.
Daaraan klou ek en aan my hoop tot in ewigheid amen.
Nuwe Avontuur

Ek was nogal besig die laaste ruk. Soos meeste van julle weet, het ek ‘n nuwe avontuur begin. Dis so exciting!
Ek het een oggend in my stilte tyd vir Dad gevra vir nog iets – iets anders – iets wat ek kan geniet om te doen op my oudag.
‘n Goeie vriendin het ‘n rukkie terug vir my ‘n gegeurde kers gegee as geskenk en ek is versot op dit.
Terwyl ek en Dad kuier, vang my oog die kers en ek sê vir Dad : “Wat van kerse maak?” Net daar en dan begin iets binne my vlam vat en daar begin iets binne my woel. Van daardie dag af begin ek boeke soek en lees. Ek kyk YouTube videos – die een na die ander.
So begin ek voorraad aankoop; so stuk vir stuk. Die stemmetjie hier in my kop (ons almal weet Wie dit is) sê “Nie net kerse nie, kyk na seep, ens.”.
Ek begin toe boeke lees oor seep en verskillende olies en hulle funksies. Begin lees oor kruie en plante en ‘n hele nuwe wêreld gaan vir my oop met olies, kruie, blommetjies en essensiële olies.
Nie te lank daarna nie maak ek my eerste batch seep. As jy nou al op my website was, sou jy sien dis ook nie al wat ek doen nie. God is so goed.
Ek was regtig so senuweeagtig, so bang dis ‘n flop en so bang dis ‘n mislukking.
Maar, voor ek my oë kon uitvee, toe was ek by my eerste mark, en dit was ‘n groot sukses. Ek is steeds so dankbaar vir Hom wat vir my ‘n produk, besigheids naam en kliënte gegee het.
Weereens het Hy vir my die vermoë gegee om ‘n website te kon bou vir die besigheid, met ‘n aanlyn winkel. Dis so ‘n eenvoudige program dat enigeen dit kan genruik. Ons nuwe avontuur skop af en begin stadigaan kliënte werf aanlyn. Ons geniet dit so. Dis so lekker om dit saam met Werner te doen en saam te bou aan ons droom en met Dad (natuurlik in die middel). Ek is baie opgewonde oor die toekoms.
My liewe vriend, jy kan seker aflei, ek probeer my pyn situasie vermy…
Ek het steeds baie pyn. Dis is beter as wat dit was, maar dis nogsteeds baie pyn. Ek begin bekommerd raak oor hoekom dit so lank vat. Ek is so bang daar is iets anders fout, ‘n ander probleem, ‘n operasie probleem. Ek is reeds op ‘n hoë morfien doses daagliks, dis hoekom ek so worry. Ek is nie veronderstel om enige pyn te ervaar nie.
Maar, vir nou fokus ek op The Firefly. Ek fokus om vir Junell ‘n deeltydse werk te kry, terwyl sy swot volgende jaar. Kan jy glo ? My bokstert pop is nou ‘n groot mens.
Ek is baie opgewonde oor die toekoms; wat Dad vir ons beplan. Opgewonde oor die nuwe pad en nuwe drome en dit alles met Dad aan die stuur.
My fisiese pyn en probleme is vir nou eers op die back burner. Vir nou fokus ek op goeie goed. Goed wat ons kan aan bou. Iets waarvan ek hou. Iets wat ek terdeë geniet. Glo my, pyn en speekkamers is nie een van dit nie.
Mag julle ‘n wonderlike feestyd hê vol blessings en baie liefde. Sien julle volgende jaar.
| ReplyForward |
Metamorfose

Dis egter nie al nie – ons jubel selfs in ons swaarkry, want ons besef dat die swaarkry ons leer om te volhard. Op sy beurt kweek volharding betroubaarheid van karakter; en betroubaarheid van karakter versterk ons toekomsverwagting.
ROMEINE 5:3-4 NLV
https://bible.com/af/bible/117/rom.5.3-4.NLV
Ons het die voorreg gehad om bietjie met vakansie te kon gaan. ‘n Eerste in ‘n baie lang tyd – my gesondheid en omstandighede was altyd in die pad.
Dit is altyd waar ek die naaste aan Dad voel; by die see. Hierdie magdom water – ongelooflike skepping uit Sy hand. Met elke golf wat breek, die druis van die branders, die sagte aanraking van die koel briesie teen jou vel. Die reuk van sout lug en so dan en wan word jy bederf met ‘n springende dolfyn of walvis in die verte. Hoe kan jy nie anders as om na aan Hom te voel nie?
Dan dink ek terug aan waardeer ek is die laaste paar jare. Waar Hy my nou het; hoe ek nou is, die mens in wie Hy my in verander, my gevorm het. Ek is presies waar ek moet wees en wie ek moet wees. Dit is alles Sy wil.
Ons was by ‘n skoenlapper plaas en ek het weer net opnuut besef hoe ongelooflik wonderlik my God is. Daardie pragtige fladderende skoonhede se lewens sieklus is net 4 weke lank. Die wyfie moet 400 eiers lê in daardie tyd en net 1 eier op ‘n slag. Wanneer daardie wurm hom toe gemaak het binne-in sy kokon en homself afbreek tot “sop”, tot niks, ‘n vloeistof en herskep word in ‘n pragtige volmaakte vlieënde pragstuk.
Mens kan nie anders as om net die skepping in awe te sien nie. Elke dag is ‘n geskenk van bo, dit het ek besef nie te lank terug nie en ek sal dit nooit weer as vanselfsprekend kan neem nie.
Al is ek nie op die oomblik fisies waar ek wil wees nie, berus ek in die wete ek is waar Hy my wil hê, ek is op Sy pad en ek vertrou Hom. Hy is my rigting aanwyser my GPS en ek weet verseker Hy sal my nie lei na ‘n afgrond nie.
Ons het nou die Sondag in die kerk die gesprek gehad van “Wat maak jy hier ?”, “Hoekom is jy geskape ?”. Wat het Hy in jou gesien, toe Hy besluit het die wêreld kort ‘n Riëtte, Desiré, of vir Linda. Wat bied jy wat niemand anders behalwe jy na die tafel toe kan bring nie ? Dit laat mens dink nè ? Dit my liewe vriend, is ‘n saak van gebed.
Ek weet nie of julle soos ek is nie, maar in my swakheid, in my pyn, kan ek so maklik daar verby kyk en luister vir die vyand wat in my ore fuister dat ek net ‘n mors van tyd is, en en en….
Mense is geneig om te dink jou skeppinsdoel moet iets groots wees. Jy moet ‘n moderne moeder Theresa wees. Al die haweloses voed, vir almal wat minder het te sorg of een of ander merkwaardige beste verkoper boek skryf of jou eerste miljoen te maak voor 25.
Dad het jou geskape jou uitgekies, jou skeppinsdoel is dalk om mense by jou werksplek te wys hoe leef iemand na aan God, hoe lyk integriteit. Dalk wie jy groot maak ek weet nie.
Maar die punt is jy moet totaal en al oorgee aan ons Hemlse Vader en Hom vra om dit aan jou te openbaar. Gee totaal en al oor soos daardie skoenlapper oorgee om Hom te vertrou om tot niks te wees en weer te kan vlieg deur God se genade alleen.

pragtige skoenlapper word.


It never rains but it pours
PROVERB
misfortunes or difficult situations tend to follow each other in rapid succession or to arrive all at the same time.

Ons is geneig om die bogenoemde frase te gebruik wanneer dit nie goed gaan nie. Hierdie laaste ruk gebruik ek hierdie frase baie. Ek was skaars tuis en aan die gang na my laaste hospitaal besoek.
Jip jy raai reg toe is weer in die blerrie hospitaal hulle het toe ‘n CT skandering gedoen en ‘n nuwe klomp probleme opgetel (nie my rug nie) ‘n inskrywing vir ‘n ander dag.
Lang storie kort; is ontslaan met meer vrae as met wat ek mee opgeneem is. Pyn is deur die dak ek is weekliks in Pretoria om my morfien pomp optestel ek is al op ‘n redelike hoë doses maar steeds in geweldige pyn. Dit raak nou net te erg!
Ek is regtig waar verby moerig vir my omstandighede. Kry myself so bietjie jammer vandag. Kry myself kort – kort in trane. Waar gaan dit eindig voel of ek meer in die hospitaal was die jaar as tuis. Ek kan nie eers onthou wanneer laas ek agter die stuur van my kar was nie.
Wanneer is genoeg – genoeg, gaan Hy my nou toets tot daar niks van my oor is nie? Ek dink nie dis baie regverdig nie. Hoeveel kan een mens hanteer? Ek is gatvol vir pyn, my lyf, en die huis. As jy nie naastenby deur dit is waardeur ek is nie hou maar die opinies en raad vir jouself.
Ek is so ongelooflik lief vir my Dad, ek hoop nee ek bid my knee deur vir geneesing/verlossing. Ek is loyaal teenoor Hom wat Hemel en aarde gemaak het. Hoekom een mens deur so baie moet gaan, verstaan ek glad nie.
Net as ek begin hoopvol wees dan gebeur daar iets en ek is terug by square 1. Ek is so ongelooflik moeg siels moeg, moeg gesukkel. Maar Hy sal vir my rus gee, by Hom sal ek rus kry by Hom sal ek berusting kry.
Maak nie saak hoeveel reën ek op my pad kry nie, ek weet ek is nooit alleen nie. Hy sal my nie los nie, al voel ek alleen weet ek Hy is by my. Hy sal op die einde van die dag my trane afdroog my wonde verbind my voorkop soen en my stukkende lyf teen Hom vasdruk.
Ek hou vas daaraan, Hy sal my verlos van hierdie slavery nes Hy die Jode bevry het. Sal Hy my lei na my beloofde land. Dalk nie vandag of môre nie, maar dit kom. Ek wag op Hom en Hy gee my elke dag net genoeg krag om deur te druk vir die volgende dag.
Deur dit alles is Hy steeds getrou en goed!
Daar is die afgelope paar weke so baie mense dood. Ek kry myself dat ek jaloers is op die dooies. Ek wil net verlossing hê, in my Vader se arms in hartloop sy hartklop hoor. Vir eens sonder pyn wees by Hom.
Hemel klink so wonderlik – klink soos ‘n lang verwagte vakansie. Rus vir die siel, totale rustigheid vir liggaam en siel.
Ontspan; ek sal nie iets onverantwoordelik aanvang nie ek hunker net na my Vader.
Ek het ‘n dors wat net Hy kan les met Sy lewende water. Tot dan wag ek geduldig vir my wonderwerk of my God, wie ook al eerste kom.
Bekeringsherdenking
Vandag is my 13 jaar herdenking van wanneer ek bekeer het. 13 Jaar voel so lank; ek kan nie onthou wie ek was voor my bekering nie. Ek weet ek was baie kwaai, beneuk is die regte woord. Ek dink daar is ‘n rede hoekom ek nie onthou wie ek was voor ek bekeer het nie. Ek glo ons moet leer uit ons verlede en dit daar laat.
Daardie dag, waar ek Dad se liefde die eerste keer ervaar het en vir twee dae aanmekaar gehuil het; nie oor hartseer nie, maar uit dankbaarheid. Dis waar ek die eerste keer in my lewe gevoel het hoe onvoorwaarlike liefde voel.
Maak nie saak wat ek gedoen het of gesê het nie, of wie my seer gemaak het nie. Hoeveel keer ek verwerp was nie, of hoeveel keer ek my eie lewe wou neem nie. Alles het van my afgeval – so asof jy in ‘n warm stort staan en al die lelike goed in my verlede en hede spoel af van my lyf / my siel af en spoel in die drein waar dit hoort. Verewig verlore om nooit weer opgetel te word nie.
Ek dink dit is hoekom Dad my laat vergeet het wie die ou ek was. Dis sodat ek nie weer die gebroke stukke van myself kan optel nie.
My lewe was nie maklik na my bekering nie, inteendeel was die moeiliker. Alles wat moontlik kon verkeerd gegaan het, het. My ligaam het my teleurgestel. Vriende het van my vergeet en my hart in stukke gebreek. Ek moes ophou werk oor my liggaam wat my faal.
Maar my liewe vriend, dit was alles die moeite werd. My liefde vir God het so gewelding gegroei, sowel as my liefde vir my gesin en my medemens. My huwelik het verander. Ons het God die middelpunt van ons huwelik gemaak. Ons liefde vir mekaar het verdiep tot ‘n vlak wat ek nooit gedink het moontlik is nie. Ek kyk anders na die lewe. My gebede het verander, nie meer net skiet gebedjies wat gebid word om my te help uit ‘n penarie nie. My gebede het verander in geselsskappe tussen my en God.
Ek het lank na my bekering gesukkel om te aanvaar dat Hy my lief het en my gekies het om Sy kind te wees. Ek, hierdie gebroke “fragile being”! Ek is nie Sy liefde werd nie. Ek verdien nie eers Sy krummels wat op die grond val nie. Hoe kan Hy so lief wees vir my ? Ek verdien niks van hierdie wonderbaarlike geskenk wat direk uit Sy hand kom vir my en jou nie. Maar, toe ek genade snap en begin verstaan…wat die kruis werklik beteken het, het ek op my knieë val en uit dankbaarheid Sy genade en liefde oor my lewe aanvaar. Dit was asof die “was-lagie”, waardeur ek gekyk het verdwyn het.
Alles het anders begin lyk. Ek het die mooi in die wêreld begin raak sien; regtig raak sien; uit my siel uit raaksien. Liedjies het anders begin klink. Ek het my kinders anders begin groot maak. Sodoende het hulle ook begin verander. My kindertjies het rustiger geword – ons hele huishouding was rustiger.
My verhoudings met vriende het ook verander. Dit het meer dieper verhoudings geword en ek was meer teenwoordig wanneer ons bymekaar gekom het. Ek deel my liefde met my God met my bietjie vriende wat oorgebly het wat dit soveel meer kosbaar maak.
Ek kan nie my lewe in dink sonder my God nie. Ek kan nie dink wie ek sou gewees het sonder Hom nie. Maar, ek weet ek is soveel ryker met Hom in my lewe. My lewe lyk dalk nie soos wat ek dit wou gehad het nie, maar ek is presies waar ek moet wees en ek glo ek loop die pad wat Dad my op wil hê. Ek loop my pad saam Hom.
God het vir my hoop gegee. Hoop vir ‘n beter toekoms- ‘n pynvrye toekoms. Al het ek dit nog nie na al die jare se lyding, weet ek dat ek weet ek sal dit hê een of andertyd. Ek sal pynloos wees, of dit môre gaan wees, volgende jaar of eers in die Hiernamaals, maar ek gaan weer pynloos wees. Ek weet dit vir n feit. My God het my te lief.
